2020 was ‘n vreemde jaar vir ons almal. Met die onsekerheid oor die veiligheid van ”gewone” Desemberaktiwiteite soos weggaan, nuwe kuierplekke verken, en so meer wat deur Covid-19 bekamp is, was Jan Tuisbly ons voorland. Beteken dit egter noodwendig dat ons Gautengers se vakansies sonder avontuur moet wees? Beslis nie! Hiermee van ons gunstelingdinge om te doen in en om Pretoria en Johannesburg.
1. Verken Soweto te voet, te fiets, etende of in ‘n tuk-tuk!
Soweto is een van die mees gewilde Suid-Afrikaanse bestemmings onder buitelanders … waarom dan nie ook vir ons in die binneland nie? Ervaar Soweto saam met Lebo’s Soweto wat vir jou ‘n opwindende keur van opsies soos fietsry-, tuk-tuk-, staptoere, kookervarings en so meer bied. Lebo’s het die nodige Covid-19-maatreëls in plek en is oor die algemeen uiters professioneel … en veral vol pret! Vir meer inligting en vir pryse, klik op Lebo’s Soweto hierbo.
Wat ons daarvan hou: Die manier waarop die inwoners jou groet en verwelkom. Die heerlike kos wat by baie van die toere ingesluit is!
Kitswenk: Roetes word verskaf, maar kan ook soms volgens jou voorkeur aangepas word. Doen jou navorsing vooraf, sodat jy vir die toergids kan vra om ‘n roete uit te werk wat jou na al jou gunstelingbesienswaardighede sal neem. Dit kom veral nuttig te pas as jy ‘n groepbespreking maak waarvan ander mense nie deel is nie.
2. Red City – bustoere
Hierdie is ‘n baie informatiewe toer, wat jou toelaat om na keuse op en van die bus af te spring as jy spesifieke plekke van nader wil beskou. Soos met die Soweto-toere, laat dit ‘n mens nuwe waardering kry vir die stad waar jy dalk elke dag woon en werk.
Waar: Klim op by The Zone, Rosebank. Neem kennis dat die bus weens covid-19 nie noodwendig tans 7 dae ‘n week ry nie.
Klim af by: Constitutional Hill, Miners District, Carlton Sentrum (Top of Africa), James Hall Transport Museum, Apartheid Museum, Gold Reef City en vele meer.
Prys: R180 vir ‘n dagkaartjie, R90 per kind, en R390 per gesin (twee volwassenes en twee kinders). Sien ook Red City se webtuiste vir gereelde spesiale aanbiedings.
Sluit uit: Ingangsfooi by sommige besienswaardighede (Carlton Sentrum, Apartheid Museum, Gold Reef City.)
Vir meer inligting en om te bespreek, klik hier.
3. Nkwe Plesieroord, Pretoria
Nkwe is ‘n oord wat dagbesoekers toelaat om te ontspan by die piekniekarea. Daar is ‘n poel met hoë rotsformasies waar die brawes kan afspring. Die perfekte daguitstappie vir families, vriende, en selfs paartjies!
Waar: Nkwe Straat, Tierpoort.
Sluit in: Piekniek- en braaigeriewe.
Prys: Seisoenaal.
Vir meer, klik hier.
4. Rustig Staproetes
Net ‘n klipgooi vanaf Pretoria skuil die wonderlike natuurpark, Rustig. Wanneer dit by fietsry of stap kom … is die naam egter soms misleidend. Ons het ‘n hele paar maal na ons asems gesnak gedurende ons besoek aan hierdie reservaat! Maar, elke oomblik was deur en deur die moeite werd.
Wat ons daarvan hou: Rustig bied ‘n keur staproetes van beginners tot meer gevorderd. Daar is dus iets vir elke ervarings- en voorkeurvlak. Vir staproetes kan jy kies tussen 9 km, 13 km of 18 km. Daar is ook ‘n aantal bergfietsbane.
Kitswenk: Bespreek vooraf op hul webtuiste om teleurstelling te voorkom. Daar word ‘n beperkte aantal besoekers toegelaat weens covid-19-maatreëls.
Vir meer inligting en vir pryse, klik hier.
5. Sammy Marks-museum, Pretoria
Die Sammy Marks-museum is die herehuis van die voormalige industriële en mynmagnaat, Sammy Marks. Die huis spog met 48 slaapkamers, ‘n pragtige tuin en tennisbaan. Gaan eet iets by die restaurant, loop deur die huis, of bespreek vir ‘n piekniek. ‘n Lekker blik op ‘n Pretoria van weleer. Vir meer, klik hier.
Watter aktiwiteite, plekke, en ervarings kan ons tot hierdie lysie toevoeg? Vertel ons in die kommentaarveld, stuur jou idees aan info@reisafrikaans.com of merk jou foto’s met #reisafrikaans op sosiale media!