Suid-Korea…Byna onmoontlik om in woorde te beskryf. Selfs nog moeiliker om binne ‘n paar dae te beleef, wat nog van begryp. ‘n Land ryk aan kontras; oorloë en onderdrukking, vryheid en beweging, vooruitgang en, tog, diepgewortelde tradisie. Waar begin ‘n mens?
Van die kos tot die kultuur, die modes tot die market. Hiermee ‘n kitsgids van wat jy in die hoofstad, Seoul, kan beleef.
Kos
Korea, in menige se opinies, is ‘n smulparadys. Van die tradisionele lewende inkvis tot die meer moderne braaihoender en bier, bied die land iets vir elke smaak. Eerste op die lys is samgipsal, of Korean BBQ. So algemeen en gewild is dit onder die Koreane soos braaivleis onder Suid-Afrikaners. Jou keuse van vark, bees of eend word op ‘n warmplaat gaargemaak en geniet saam met ‘n verskeidenheid groentes, soppe en rys. Die warmplaat vorm deel van die tafel – kookpassies vind dus plaas te midde van die gesels en geselligheid.
Koreane is ook mal oor diepgebraaide hoender. Wanneer die ongemak en uitdaging van eetstokkies meer irritasie as plesier raak, kom die gebruik van ‘n mens se hande as ‘n welkome verligting. Die hoender word byna altyd saam met bier (heerlik en verslawend!) bedien en word by enige geleentheid, van sportswedstryde tot huweliksherdenkings, voorgesit. Maar meer daaroor later.
Restaurante opsy, spog Korea met ‘n verskeidenheid fassinerende straatkosse. As jy rondtes in die winter maak (Desember-Februarie) wees seker om die rooiboon-en-vanilla-wafels te probeer. Hierdie wafels word in die vorm van vissies gebak en is rond-en-bont op straat beskikbaar. Besoek ook Kwangjang Market in Jongno-gu vir jou keur van eg Koreaanse groentes, vis, kimbap (Koreaanse sushi) en bredies. Hier kan ons beslis die viskoekies en -sosaties, sowel as die varknekbredie en pajon (‘n groente-en-calamari-pannekoek) aanbeveel.
Kultuur & Aktiwiteite
In terme van kultuur het dit gereeld vir ons gevoel Korea is veel meer as geografiese wêrelde vanuit Suid-Afrika. Daarom kom die Koreane se geite en goeters soms as vreemd, selfs ongeskik, voor. Onthou egter, hulle beleef dieselfde verwarring in terme van ons optrede. In geaardheid is die Koreane van die nederigste en mees behulpsame mense onder die son. Daarmee saam is hulle ook diep gegrond in ‘n stille respek en dissipline, en speel ouderdom en titel vandag steeds ‘n beduidende rol in sosiale strukture. Wees bewus hiervan, maar moet jouself ook nie te veel daaroor bekommer nie.Voldoen aan die kulturele vereistes soos dit aan jou openbaar word, en vergewe jouself die res.
Musiek
K-POP of Korean Pop, ‘n absurditeit en vreugde, is sonder twyfel jou tyd en geld werd. Dié musiekgenre, wat deesdae internasionaal opslae maak met groepe soos BTS (oorspronklik uit Seoul) is ‘n mengelmoes van perfekte danspassies, te veel grimering en altyd vermaaklike lirieke.
‘n “K Pop battle” in Hongdae Seoul. ‘n “K Pop battle” in Hongdae Seoul. ‘n “K Pop battle” in Hongdae Seoul.
Verder spog Seoul ook met ‘n nimmerslapende naglewe. Baan jou weg na Itaewon vir ‘n keur van hipster-kuierplekke en na Hongdae vir ‘n blik op Seoul se studente en studentelewe.
Laaste, maar nie die minste – norebang. Óf karaoke, soos die Japannese dit noem. Dink Sing Star op Playstation 2 maal ‘n miljoen. Klankdigte vertrekke, netjies toegerus met mikrofone, luidsprekers en skerms, word per uur verhuur vir dromende Whitney Houstons en Elvisse. Alles van Elsa se Let It Go tot Enya se Echoes in the Rain is op die kieslys beskikbaar. Vir die skamer siele kan daar gesing word met ‘n klankbaan, terwyl die brawes kan waag om hulle eie stemme dik te maak. Sonder twyfel ‘n aktiwiteit wat sal sorg vir skaterlag- herinneringe.
Eg Koreaans – Paleise & Hanokhuise
Seoul se Hanok-buurte bied ‘n blik terug na ‘n lang vergete tydperk en veel meer eenvoudig.Vandag bestempel as ‘n Unesco World Heritage Site staan die houthuisies vierkantig en trots te midde van die wolkekrabbers waarvoor Korea deesdae bekend is. Die avontuurlustige reisiger kan bed en hotel ruil vir hanok en slaapmat. Nie net is dit iets anders nie, maar volgens legende besit die materiale waarmee die huisies gebou is medisinale eienskappe. Stories loop van Koreane wat vir maande lank in hierdie buurte huismaak, veral om van velkwale genees te word. Noem dit sommer ‘n retreat!
Hanokhuise is eg Koreaans en kan op Booking.com bespreek word. Hanokhuise is eg Koreaans en kan op Booking.com bespreek word. Hanokhuise is eg Koreaans en kan op Booking.com bespreek word.
Uitgerus en opnuut gesond is dit tyd vir die stad se paleise. Die nou straatjies maak vir die ideale geleentheid om ‘n tuk-tuk te neem na jou naaste hanbok- verhuurder, en uiteindelik tot by die paleis. Hanbokke is formeel Koreaanse drag uit die vorige eeu – dink breëpantrokke, swierig in ‘n ryk rooi en warm geel. Vir mans is dit onderbaadjies – juweelblou met breedgebinde belde. Die aantrek van hierdie klere maak vir lekker pret, en besorg jou ook gratis toegang by die paleise (alhoewel die huur daarvan eintlik duurder is as die toegangsfooi).
Gyeongbokgung en Hangdeokgung is die twee grootste paleise in die stad. Die dakke is grys en gepunt, en die mure seegroen. Iets daaraan herinner aan Desember, en met elke inaseming soek ‘n mens na sout. Tog is Seoul een van die min plekke in die land waar die see nie sigbaar is nie. Selfs met die toeriste wat in-en-uit beweeg heers daar ‘n voelbare vrede. Aan weerskante is gewaste rooi pilare, wakend oor die loopgange wat lei na die agterpaleis. Ek sit en dink dat al die kleure destyds met die eerste verf baie helderder moes wees. Maar, die verbleiktheid daarvan bring ‘n ander mooi. Die tipe mooi wat ‘n mens aan ‘n bejaarde se hande laat dink – ‘n mooi wat nie net gesien word nie, maar al self dinge gesien het.
Die besoek aan hierdie paleise bring ‘n respek en eerbied vir die Korea wat was en ‘n beter begrip vir die Korea wat is. Neem jou tyd en neem in. Wees ook bewus van die spesiale vertonings wat per geleentheid aangebied word, sowel as die daaglikse verandering van die wagte.
Globale Invloed, Koreaanse Kinkel
Soos enige land is Korea ‘n produk van globalisering. Buiten die welkome McDondald’s na ‘n dag by die vismark, bied die land ook ‘n interessante twist op ou gunstelinge. Eerste, Amerikaanse bofbal -‘n geliefde sport en ‘n moet as jy die land in die somer of lenteseisoen (Maart-Oktober) besoek. Die atmosfeer by hierdie wedstryde is heerlik – met die reuk van kos wat in die lug hang en ‘n gewemel van mense.
Vir iemand wat nie juis ń groot belangstelling in sport het nie, was hierdie een van die dinge wat ek seker die meeste geniet het. Die toeskouers is ‘n skouspel op hul eie – met almal wat baljaar op dieselfde liedjies EN danspassies in ‘n perfekte harmonie soos net die Koreane kan. Elke nou en dan beweeg die kamera oor paartjies en moet hulle op die ‘soenskerm’ ‘n lekker sappige soen deel. Alles in ag genome – ‘n heerlike en vermaaklike aktiwiteit.