Die Covid-19 pandemie het alle leefwyses en werksaamhede verander. Dit is ook natuurlik waar vir reis. Vir die nuutste inligting rakende die beskikbaarheid van hierdie program, gesels met ons by info@reisafrikaans.com.
Die voltooiing van my BCom-graad het gepaardgegaan met die onmiskenbare begeerte om ‘n breek van my universiteitsloopbaan en die bekendheid van die alledaagse te neem. Na vele ure se aanlyn soek, het ek uiteindelik ‘n artikel gevind oor die voordele daarvan om as ‘n berader by die somerkampe in die VSA te werk. Geboei deur die belofte van ‘n lekker werksomgewing, maar tog ook met ruimte vir groei, het my somerkampreis begin…
Om die werk te kry:
Daar is verskeie agentskappe wat plasings vir Suid-Afrikaners by die Amerikaanse somerkampe behartig. Ek het gebruik gemaak van Awesome Travel, en sal dié maatskappy aanbeveel. Om te begin, vul ‘n mens bloot ‘n aanlyn vorm in, of stuur ‘n e-pos. Hierna sal die agentskap jou besonderhede hersien en ‘n onderhoud reël. Die doel van hierdie onderhoud is om inligting en vrae uit te ruil, en te verseker die somerkampe is wel geskik vir jou. Gedurende hierdie onderhoud sal jou gekose agentskap ook bevestig dat jy aan al die dokumentvereistes voldoen. Terwyl die proses intimiderend mag klink, was dit eintlik heel ontspanne en het ek vinnig op my gemak gevoel.
Vereistes in ‘n kits:
1. Liefde vir (en verkieslik ondervinding met) kinders.
2. Geen kriminele rekord.
3. Engels magtig.
4. Tussen 19 en 30 jaar oud.
5. Beskikbaar om in die VSA te arriveer vanaf Junie, en vir minstens 9 weke te bly.
6. Leierskap en sterk kommunikasievaardighede is ‘n voordeel.
Na ‘n paar onderhoude, laai agentskappe ‘n aanlyn profiel op ‘n sentrale netwerk. Die verskillende somerkampe maak gebruik van hierdie profiele om jou vaardighede te besigtig, en kontak dan die agentskap. Die voordeel van hierdie agentskappe is dus dat jou uiteindelike aanstelling iewers wedersyds voordelig sal wees. Ek is aangestel by Camp Newaygo, ‘n kamp vir meisies in Michigan.
Voor jy gaan:
Die tydperk vanaf die werk bevestig word totdat jy begin werk, wissel gewoonlik tussen een en drie maande. Gedurende hierdie tyd beveel ek aan dat jy soveel spaar as wat jy kan, interessante bestemmings wat jy graag wil besoek navors, oplees oor jou kamp en jou gekose kampvaardigheid opskerp. In my geval was dit om tennislesse te gee. Jy sal ‘n duidelike ‘briefing’ ontvang oor enige aanbevole of verwagte vaardighede. Wat logistieke reëlings betref, was die agentskap uiters behulpsaam. Nadat die programfooi betaal is, skeduleer die agentskap alle visumafsprake, vlugte, oornagverblyf in New York, sowel as vervoer na jou kampbestemming. Ek het bittermin gehad om my oor te bekommer, en kon rustig begin uitsien. In my geval het die bogenoemde fooi R13 500 beloop. Dit sal egter afhang van jou gekose pakket en agentskap. Onthou egter – goedkoop is duurkoop. Jou gemoedsrus en ‘n uiteindelike suksesvolle plasing is die ekstra sente werd.
Arriveer in Amerika:
Al die verskillende nasionaliteite wat deur ‘n agentskap geplaas is, arriveer ongeveer op dieselfde tyd – sodra die kampseisoen begin – en spandeer een aand in New York. Op hierdie eerste aand het ek reeds twee van my medeberaders ontmoet, en ons was vinnig vriende. Bykomend tot die 3-maande-werkskontrak, word ‘n vierde maand op jou visum ingesluit vir reisdoeleindes, en het ek Amerika saam met die einste twee medeberaders verken.
Die kamp self:
Met die aanvanklike aankoms word ‘n 14-dag-opleidingskamp aangebied. Hierdie opleidingstydperk mag langer of korter wees, afhangend van jou unieke plasing. Die opleiding in oorsig is egter oral soortgelyk. Die eerste week beklemtoon die stig van verhoudinge tussen die beraders, sowel as wat ‘n mens as ‘n berader te wagte kan wees. Gedurende die tweede week word jy toegerus met sekere fisiese beradersvereistes soos lewensredding en noodhulp. Daarna begin die somerkampe.
Die kampe strek gewoonlik van Sondag tot Sondag en elke beraderspaar is verantwoordelik vir tien kinders. Onthou dat jy as berader die kinders se name, mediese geskiedenis en kosvoorkeure moet ken. Jy moet ook troos as die kinders huis toe verlang, en saam baljaar wanneer dit goed gaan. Een van my weeklikse hoogtepunte was om die kinders se oorlewingsvaardighede op te skerp deur hulle te leer hoe om tente op te slaan, vure te maak en die wildernis te geniet.
Ek moet bieg…
Somerkamp het sonder twyfel my lewe verryk. Ek is uitgedaag, uitgeput, oorwerk en oorweldig. Die mense en avonture wat daarmee saamgekom het, was egter goud werd. Beraderskap dwing ‘n mens om leiding te neem en verantwoordelik te wees, en wys jou opnuut alles waartoe jy eintlik in staat is. Om om te sien na 10 kinders wat in die wildernis huis toe verlang, is uitdagend, om die minste te sê. Laat nagte van buite boeklees terwyl die muskiete kou aan jou enkels is waarskynlik een van die mees onselfsugtige ondervindings wat ‘n mens kan hê, maar ook een van die mees vervullende.
Op ‘n Sondag arriveer die meisies as vreemdelinge. Binne 7 dae word vriendskappe egter gevorm en lewenslange verbintenisse gesmee. Dan praat ek nie eers van die verbintenisse tussen jou en jou medeberaders na die afloop van drie maande nie. As jy op soek is na ‘n uitdaging en ‘n avontuur is die Amerikaanse somerkampe die werk vir jou!
Reis Afrikaans is onafhanklik van enige derdeparty-agentskappe, en poog om te alle tye objektief te wees. Terselfdertyd beoog ons om reisigers te bemagtig deur hul in kontak te plaas met betroubare agentskappe en geleenthede. Die maatskappy, Awesome Travel, wat deur Reisiger Nompilo aanbeveel en gebruik is, is dus wel oor die artikel in kennis gestel. Om ‘n aansoekvorm, brosjure en begrotingsraamwerk aan te vra, klik hier.