Kleurryke strande, geurige disse, vriendelike mense en rande wat rek… Dis nie moeilik om te sien waarom Bali onder ons gunstelingwêreldbestemmings is nie. Hiermee ons voorkeur doene-en-dinge op dié eiland.
Bestemming 1: Ubud – 2 tot 3 nagte
Dertig kilometer anderkant die lughawe, lê Ubud – bekend vir sy ryslande, apies, koffie en kunsgalerye. Om in hierdie binnelandse stad te begin, werk goed, aangesien ‘n mens dan nog propvol energie en nuuskierigheid is. Later, terug naby die strande, kan luilekker kusdae sonder skuldgevoel geniet word.
In Ubud, sowel as die res van Bali, beveel ons aan dat jy ‘n bromponie huur. Teen R70 ‘n dag, is die eiland joune. Dis verbasend maklik om hierdie motorfietsies te ry, en die gevoel wat daarmee gepaardgaan uiters bevrydend.
Eerste stop – Tegallalang-ryslande (dag 1)
Baan jou weg deur die spiraalpaadjies na die Tegallalang-ryslandgoed. Die lug is geurig gevul met die reuk van blomme en kakao, die bries vars en welkom. Eers daar wag klimme en dale in ‘n skaamtelose en dramatiese groen – asemrowend. Teen R100 kan jy van die bekende ‘Bali Swings’ gebruik maak – vat vlerk en sien die pragtige prentjie van bo. Daar is ook talle uitkykkafees en koffiekarretjies – probeer ‘n vars geparste vrugtesap, en val dan weer in die pad.
Daarna – Bali Pulina-koffieplantasie (dag 1)
Met die intrapslag by Bali Pulina, bevind ‘n mens jou dadelik in ‘n wonderwêreld… Vanielje, kakao, aloe vera en klapper groei ruig alom die wandelweë. ‘n Personeellid verwelkom ‘n mens, en vertel dan oor die eksotiese verskeidenheid natuurmiddels wat in die tuin groei. ‘n Gratis koffie-proesessie word aangebied, en sluit alles van ginseng- tot gemmerkoffie in. Teen ‘n ekstra R50, kan daar ook gesmul word aan Bali se bekende Luwak-koffie – daardie wat gemaak word uit die Luwak-kat se mis… Interessant, om die minste te sê!
Volgende – middernagtelike berg-manewales (dag 2)
Dis drie-uur die oggend, pikdonker en verbasend warm…Bali se jasse groen lê weggesteek onder die nag se swaar kombers. Die vulkaan Batur word al dekades lank deur pelgrims in die donker uitgetrap. Vandag is dié berg ook ‘n bekende toeriste-aantreklikheid. Wanneer ‘n mens uiteindelik bo kom, verbeel jy jou jy is ‘n gas in God se kunskamer. ‘n Skemerson ontbloot belynings – berge, wolke en skadu’s. Dan skielik, en amper onverwags – diep kleure. ‘n Gordyn word oopgemaak en lyne word prente. Die horison geverf in oranje en blou en wit en groen. Maak seker jy trek jou stapskoene aan, en onthou ‘n baadjie!
Uiteindelik – Kook & geniet (dag 3)
Kos in Bali is vars, uniek en smullekker! En wat kan lekkerder wees as om dit self te maak? Skryf in vir ‘n kookklas! Hierdie klasse kan deur hostels en hotelle bespreek word, of aanlyn op Viator of Get Your Guide. Besoek ‘n tradisionele kosmark vir bestanddele en spring daarna aan die werk onder die leiding van ‘n Balinese koskenner. ‘n Driegangmaal word voorberei en daarna as kookgroep geniet.
Ander besienswaardighede in Ubud sluit in die Monkey Forest, Tirta Empul Water Temple en Champuhan Ridge. Maak ook seker jy maak ‘n draai in die dorp – ‘n verskeidenheid sjarmante galerye, winkels en restaurante wag.
Bestemming 2: Canggu & Seminyak – 1 tot 2 nagte
Nou vir luilekker dae, terug teen die kus. Redelik nuut op die toeristekaart, is Canggu – ‘n hub van idees, uitlandse entrepreneurs en binnelandse entoesiaste. Die kuslyn is pragtig … ‘n String strandkafees maak vir voorste ry sitplekke tot asemrowende sonsondergange. Absoluut heerlik, veral saam met uitspattige drankies in kokosneut en hout. ‘n Vinnige rit vanuit Canggu, lê Seminyak – weereens propvol sjarme en prag. Hier het ons vir ‘n dag uitgespan by een van Bali se ‘Beach Clubs’ – dink masserings, swembadstoele, musiek en bier. Ons was by LV8. Daar is egter te kus en te keur wanneer dit by hierdie uitspanplekke kom. Canggu en Seminyak is ook bekend vir hul markies en branderplankry. Oorweeg gerus ‘n les of twee!
Bestemming 3: Nusa Penida – 3 tot 4 nagte
Neem nou die boot vanaf Sanur tot in Nusa Penida, ‘n kleiner eiland op Bali se buitewyke. Met die intrapslag in die hawe, voel Nusa dadelik meer eg en etnies. Die paaie het meer slaggate en die locals se oë is groter vir toeriste – dis ongetem en eerlik.
Jy mag dit nie misloop nie – die strande (1 of 2 dae)
Volgens ‘n 2018-Instagram-verslag, spog Nusa met die wêreld se mooiste strande. Ons kan beaam dat dit die waarheid is. Die lys is lank – Angel’s Billabong, Crystal Bay, Atuh, Diamond en soveel meer… Onder ons gunstelinge was Kelingking – ‘n witsand-strand wat homself huisves binne die buik van ‘n massiewe kliphang. Berei voor op ‘n komieklike klim-en-klouter teen die berg af…Dra tekkies! Uiteindelik onder, is die water ‘n warm blou – so asof die diepsee aan die kus kom kuier het. Dis ‘n prentjiemooi panorama. Swem, span uit en geniet! Nusa, soos die res van Bali, spog ook met meer ingerigte strande waar jy alles van swembadstoele tot driegangmaaltye kan kry. Hiervoor was ons by Atuh Beach.
Beslis jou kluitklaplysie werd – snorkel (1 dag)
As jy net twee dinge in Bali kan doen, maak dit vulkaan Batur en hierdie… Die wêreld onderwater is ’n kleuter met kleurkryt – gemaklik kreatief en sonder lyne. Onder die oppervlakte skuil duisende vissies en krappe en korale. Meer as wat ’n mens kan inneem. Absoluut pragtig. Byna lewensveranderend.
Maak ook beslis ‘n draai by Nusa se plaaslike kosmark – dit lyk dalk na niks, maar bars van geure. Vir ‘n appel en ‘n ei, kan plaaslike hoenderdisse, rys en tee geniet word.
Bestemming 4: Sanur – 1 tot 2 nagte
Weer op die hoofeiland, baan jou weg na Sanur. Teen die strand lê talle hipster-kuierplekke, tog bly dit eg Balinees. Dié stad spog met heerlike musiek en musiekoptredes – perfek om Bali se naglewe te beleef, en (minstens volgens ons) veel lekkerder as Kuta. Draai by Beatles Cavern Bar en sluit die aand af by Casablanca. Sanur het ook ‘n keur heerlike winkeltjies en strande. Dagtoere, soos die toer na die enig-in-sy-soort komododraak-eiland, kan ook van hier gedoen word.
Die bogenoemde is ‘n druppel in die emmer wanneer dit kom by plekke, aktiwiteite en besienswaardighede in Bali … Wat ons wel vir jou kan sê, is dat hierdie eilandbestemming heelbo aan jou lysie hoort. Die Balinese is vriendeliker as Zuma voor ‘n verkiesing, die kos is kleurryk en uiters geurig, en die beste van alles: in Bali is selfs “duur’’ goedkoop. Strek jou rande en verbreed jou horisonne op hierdie pragtige eiland! Ons kan jou waarborg jy sal veranderd en verfris terugkeer.