Na twee jaar van voltyds oorsee reis, bevind ek my terug by die huis en is ek waarskynlik die enigste landsburger wat met welkome oë kyk wanneer die taxi’s voor my inswaai en selfs ook glimlag oor beurtkrag. As die buiteland my een ding geleer het, is dit dat alle lande probleme het. En dat hierdie probleme nie soveel van mekaar verskil soos wat ‘n mens mag dink nie. In Frankryk is ek verskeie kere op die treinstasie opgehou oor die drywers hoër betaling wou hê en in Argentinië het die brandende bande op die sewe-uur nuus my gereeld op ‘n vreemde manier huis toe laat verlang. In Korea was die treine betyds en die protesaksie vreedsamer, maar jong mense was bekommerd oor loopbane en oor trou, en ou mense het bepeins of hul hul jonger dae reg en wys geleef en uitgeleef het. Plekke verskil, maar mens bly mens.
Op die vooraand van ons nasionale verkiesing, kyk ek egter met omsigtigheid na die realiteite wat ons land in die oë staar en dit wat sal moet realiseer om Suid-Afrika en sy burgers, almal van ons, op te hef eerder as af te breek. Uit ondervinding weet ek dat die gras nie elders groener is nie en dat gras groei waar ‘n mens water gee. Ek is ook daarvan oortuig dat die vrugbaarheid van ons grond, land en mense onvergelykbare potensiaal inhou. Maar ‘n mens maak die koerant oop en die werkloosheidsyfers, ekonomiese afswaaie en misdaad ontmoedig. Dit is sulke tye, voor ek myself in ‘n spiraal van negatiwiteit verloor, dat ek byna altyd herinner word aan ‘n gesprek met ‘n Uber-drywer, kort voordat ek in 2017 Suid-Afrika vir Frankryk sou ruil…
Die hoofweg tussen Stellenbosch en Kaapstad strek donker voor ons uit. Die son begin agter die berge verskyn, maar wil nog ‘n oomblik inlê. Daarom is die stilte tussen ons heel gemaklik. Tog vra ek die man of hy so pas begin werk het of amper klaarmaak.
“Vrydae werk ek van 22:00 tot 06:00 – die dorp drink en ek werk,” sê hy terwyl sy oë deurgaans op die pad bly. Hy neem ‘n sluk koffie en praat dan verder. “Ek was nog nie by baie plekke in Suid-Afrika nie – ek is eintlik van Zimbabwe. Maar ek dink die mense hier drink ‘n bietjie te veel… Hoekom is dit so?” Sy stem is sag en sonder beskuldiging, maar hy vang my onkant. Ek sê vir hom wat ek dink. Hy luister, geduldig, en vertel dan dat dit baie anders is as sy studentejare in Zim. Die woorde is dadelik vir my opvallend – “my studentejare”.
Hy vertel van sy studies sowel as die boekwinkel waar hy gewerk het om te betaal daarvoor. Hy deel dat hy nooit meer as ‘n bier op ‘n weeksdag sou drink nie. “Maandag tot Vrydag was studeer my 09:00-17:00-beroep. ‘n Mens is mos paraat en nugter daarvoor.” Voor my verander die drywer in ‘n man met dryfkrag, aansien en drome. Hy het ‘n meestersgraad in sielkunde, en wou-wou met sy doktorsgraad begin toe Zimbabwe finaal die afgrond ingetuimel het.
“Julle moet dankbaar wees vir julle paspoort… Ek haal myne uit en mense lag.” Hy verwys dan na die kieslys wat gereeld verskyn wanneer ‘n mens aansoek doen vir werk, ‘n visum, ‘n toelaag, ‘n beurs … die lys is nimmereindigend. “Zimbabwe is nie ‘n keuse op daardie lysies nie – ek kan dus nooit verby stap een kom nie.” Dit is iets so bitterlik eenvoudig, tog het ek nog nooit daaraan gedink nie. Seker oor dit my nog nooit persoonlik geraak het nie. Suid-Afrika verskyn immers as keuse op hierdie lyste. Internasionale poste bied ons die geleentheid om aansoek te doen. Ons kan reis. Ons kan leen. Ons kan kom en ons kan gaan. Tog is hierdie man, hierdie gawe, gawe man, veeltalig en tersiêr gekwalifiseer, daarvan ontneem om dieselfde te kan sê. En dit oor die selfsug van sy tuisland se president.
Op die vooraand van ons verkiesing is ek dankbaar dat ons land en paspoort nog waarde het, maar ek is ook akuut daarvan bewus dat dit nie ‘n waarborg is nie. Ek is gereed om my kruisie te trek, nie soseer omdat ek in ‘n enkelparty of leier glo nie, maar wel omdat ek in Suid-Afrika glo. En wanneer die moedeloosheid klop en môre meer na ‘n vakansiedag as stemdag wil lyk, kom die Uber-drywer, sy naam is Michael, se woorde weer by my op. “Julle moet dankbaar wees vir julle paspoort. Ek haal myne uit en mense lag.”