Verken Qatar se hoofstad.
Vir meeste mense is Doha, Qatar ‘n blote pitstop – ‘n Midde-Oosterse skakel tussen Suid-Afrika en die res van die wêreld… Buite die lughawe wag daar egter ‘n wonderwêreld van mense, kulture en tale. Ontdek die vele geheime van dié stad op jou volgende besoek.

Dag 1:
Wanneer ‘n mens nie die woestynsandput gewoond is nie, kan hy jou nogal uitput! Neem dus ‘n uur of wat om jou voete te vind en gewoond te raak aan die omgewing. Gaan maak dan ’n draai by die Falcon Souq vir ‘n outentieke Qatarse ondervinding. Soos jy jou weg om die valkmark baan, sal jy leer oor die belangrikheid van dié voël in die Qatarse kultuur en ekonomie. Die voëlbewaarders is gewoonlik vriendelik, en laat besoekers toe om die majestueuse valke, met hul maskers en duur prysetikette, van nader te besigtig. Onthou egter dat dit ‘n gevaarlike roofvoël bly – aanraking is streng verbode. Daar klaar, geniet ’n keur plaaslike disse vir aandete by die plaaslike mark, Souq Waqif.

Dag 2:
Bespreek ’n woestynsafari. Hiervoor beveel ons aan dat jy die Get Your Guide-toep gebruik. Hierdie is reisvergemakliking op sy beste: Jy word afgehaal by jou hotel en vervoer na die woestyn in ’n luukse 4×4-motor. Hierdie toere kan volgens persoonlike voorkeur aangepas word – sluit ‘n kameelrit, sandplankry of vierwiel-avontuur by jou pakket in!

Dag 3:
Spring vroeg uit die vere om voor tien die plaaslike kameelwedloopbaan in Al Shahaniya te besoek. Hier kan jy sien hoe die kamele vir resiesdoeleindes afgerig word. Jy kan hulle ook besigtig in die rusomgewings en meer leer oor die geskiedenis van kamele in Qatar. Daar word vanaf Oktober tot Februarie elke Vrydag wedlope gehou. Die grootste kompetisies is in Maart en April.

Dag 4:
Verken die stad! Jou beginpunt is die City Centre Mall – neem ‘n Uber tot hier en slaan dan tekkies-tot-die-teer. Doha is ‘n skouspel van vooruitgang, kolossale geboue en moderne argitektuur. Om die prentjie van bo te beleef en ten volle te waardeer, besoek die Marriot Marquis se Aqua Lounge. Spring dan op die metro tot by Katara, ’n kulturele dorpie langs die strand. As jy graag van hierdie strand gebruik wil maak, maak seker jou baaibroek maak jou skouers en knieë toe. Wanneer jou maag behoorlik grom, kry ’n karwa-taxi om jou in Medina Centrale in The Pearl te gaan aflaai, kies hier uit die groot verskeidenheid restaurante.

Dis ons top 5 vir Doha … wat is joune? Vertel ons in die kommentaarveld, stuur ‘n epos aan info@reisafrikaans.com of merk jou foto’s #reisafrikaans.