410 km van bloed, sweet, trane en dankbaarheid.
As die doel van reis is om ryker terug te kom as toe jy gegaan het, is uitreike, of uitreise, sonder twyfel die beste manier om groei te bewerkstellig en perspektiewe te hernu. Jaarliks trap ongeveer 20 studente hul fietse tot in Botswana. Op pad word uitreike gedoen, en beloof hierdie fietstoer om ‘n uiters verrykende ervaring te wees.
Met baie moed en ‘n tikkie waansin het ek in 2017 voet-tot-fiets-pedaal gelê en die 410 kilometer tussen Mooinooi en Gabarone aangedurf. Langs die pad word daar by ouetehuise, townships en kleuterskole gehelp. Die primêre doel van die fietstoer, wat jaarliks deur die NG Kerk Universiteitsoord behartig word, is natuurlik om ‘n verskil te maak. Die introspeksie wat met die uitreik gepaardgaan, is bloot ‘n bonus. Hoe bevoorreg is ek om elke aand ‘n voedsame bord kos te geniet. Hoe gelukkig is ek om in ‘n warm stort te kan spring. Hoe heerlik is my bed en om elke dag te kan afsluit met gebed.
Gestroop van gerief, kry ‘n mens ook opnuut waardering vir dit wat werklik belangrik is – mense, menseverhoudinge en om mense te help. Jy gee, en ontvang selfs meer. Die liefde van God wat deur jou hande en voete stroom, val op die aangesig van die aangeraakte gemeenskap en gaan sit dan in jou menswees.
Wat: NG Kerk Universiteitsoord, Pretoria se jaarlikse fietstoeruitreik vanaf Mooinooi na Gabarone.
Wanneer: Datums verskil en Covid-19 mag ‘n impak hê. Gesels met NG Universiteitsoord.
Waar: Die roete, wat hoofsaaklik op agterpaaie en grondpaaie gery word, loop deur Mooinooi, Magaliesburg, Derby, Koster, Swartruggens, Groot-Marico, Zeerust en Gaborone. Die kerke op hierdie dorpe bied slaapplek aan, asook ‘n heerlike bord kos in die aand. Wasgoed word op die rusdag in Swartruggens by die vriendelike tannies in die aftree-oord gewas.
Koste: Bevestig met NG Universiteitsoord.
Wie kan deelneem: Suid-Afrikaanse studente.
Ingesluit: Slaapplek, etes, busvervoer tot in Mooinooi, spanhempies.
Bring saam: Fiets, slaapmat, beddegoed.
Vir meer inligting, of om betrokke te raak, kontak Nicela per whatsapp op 0723458389. Toe, waarvoor wag jy?!