Na drie maande is ek terug in Suid-Afrika. Negentig dae van soek, verdwaal en ontdek in die mooie Italië. Ek wil graag met jou deel hoe ek daar uitgekom het.
Ek het ‘n jaar gelede ‘n bietjie gaan rondsoek op die internet vir geleenthede wat ek in die nuwe jaar sou kon aanpak. Ek het geweet dat ek nie dadelik ‘n honneursprogram wou doen nie, en dat ek die wêreld bietjie wou sien. Deur ‘n profiel op AupairWorld te skep, het ek maklik, vinnig en veilig toegang gekry tot geakkrediteerde gesinne regoor die wêreld. Hierdie webtuiste is ‘n platform vir gesinne wat graag ‘n oppasser van ‘n ander nasionaliteit en dikwels taal wil aanstel. Die idee is dat jy in die gesin se kultuur deel, en hulle in joune.
Ek het ‘n paar oulike gesinne gevind en vir hulle elkeen ‘n boodskap gestuur. Dan moet ‘n mens wag vir antwoorde. Nie almal antwoord altyd spoedig nie. Al die antwoorde is ook nie noodwendig positief nie. Maar op ‘n dag het ek ‘n boodskap ontvang van ‘n dierbare gesin in Italië (dis al wat ek tóé van hulle geweet het…). Ons het besluit om oor Skype te gesels. Teen einde het die ma van die gesin my uitgenooi om by hulle in die mooie dorpie, Positano, aan die Amalfi-kus te kom werk. Híér is hoe…
Aupair World en Anja se ervaring:
Volgens my ooreekoms met die gesin, het ek verblyf, kos en weeklikse sakgeld ontvang. Op dié wyse word betrokkenheid in die vreemde land nie as werk beskryf nie, maar as ‘n kulturele uitruiling. Jy word bestempel as vrywilliger en ‘n toeristevisum kan gebruik word, mits jy vir drie maande of korter gaan. Dit vergemaklik die proses aansienlik, veral as jou land van keuse in Europa is. AupairWorld bied belanghebbendes maklik en vinnig toegang tot ‘n lys lande en die vereistes om daar as au pair te mag werk. Uit die staanspoor is dit dus moontlik om wesentlike bestemmings te identifiseer en ander te elimineer. Alle lande het verskillende vereistes in terme van onderrig, ouderdom, agtergrond en so meer. Daarmee saam kan ‘n mens verwag dat gesinne dalk unieke vereistes sal hê. Een gesin stel dalk slegs vroulike oppassers aan, terwyl ‘n ander juis na ‘n man soek vir hul seunskinders se manewales. Alhoewel Anja as vrywilliger gewerk het, is dit ook moontlik om ‘n amptelike werkskontrak, met salaris, voordele en so meer, te sluit. Dit sal weereens afhang van jou doelwitte, bestemming en ideale werksperiode.
Klink lekker? Skep jou profiel!
Belangstellende au pairs kan ‘n gratis profiel op die webtuiste skep. Indien ‘n gesin ‘n kontrak met ‘n belowende au pair wil sluit, is daar ‘n fooi betaalbaar. Hierdie fooi ontmoedig onnodige boodskappe en dien ook as sekuriteitsmaatreël. Au pairs kan hulself gratis aan gesinne voorstel, waarna die gesin sal besluit of hulle verdere kontak wil maak. Die AupairWorld-model is verbind tot vryheid en diversiteit van kommunikasie, persone en plasings. Dit is belangrik om jou profiel so volledig moontlik te voltooi – vertel stories, deel foto’s en maak ‘n voorstellingsvideo. Al hierdie dinge, met gepaardgaande verwysings, vaardighede, ondervinding en onderrig, vergroot die moontlikheid om deur werklik belangstellende en oulike gesinne raakgesien te word. Hoe vollediger jou profiel, hoe eenvoudiger is dit vir jou, sowel as die voornemende gesin. Mits ‘n gesin voorheen van ‘n AupairWorld- oppasser gebruik gemaak het, kan jy ook van hulle terugvoer gebruik maak om vas te stel of ‘n gesin ‘n goeie pasmaat vir jou sal wees. AupairWorld monitor ervarings en terugvoer om te verseker dat die kwaliteit van gesin en oppasser behou word – nog ‘n lekker en gerusstellende aspek van hulle model!
Is om te gaan au pair die regte keuse vir my? Verdere vrae, soos oor persoonlikheidstipe, die uitdagings wat aan au pairs gestel word en so meer kan aan ons gerig word.