Wanneer ‘n mens aan ‘n oorbruggingsjaar of jaar oorsee dink, dink ‘n mens aan rugsaktoere deur Europa of skoolgee in Asië. Min mense is bewus daarvan dat jy vir ‘n jaar as kultuurverteenwoordiger by Walt Disney World in Florida in die VSA kan gaan werk.
Die parke het ‘n kultuurverteenwoordigersprogram wat graag Suid-Afrikaners by Disney’s Animal Kingdom Park of die vyfsterhotel Disney’s Animal Kingdom Lodge aanstel.
Hierdie kultuurverteenwoordigers, wat vir periodes van 12 maande gekontrakteer word, word aangestel om die Suid-Afrikaanse kultuur en veral natuurlewe, met besoekers te deel.
Klink na ‘n plan? Lees verder en raak betrokke!
Vereistes:
- Suid-Afrikaanse burgerskap.
- Ouer as 18 jaar.
- Vlotheid in Engels.
- ‘n Geldige paspoort.
- Begeerte en vermoë om jou land te verteenwoordig.
- Goeie menseverhoudinge en kommunikasievaardighede.
- Bereidwilligheid om 12 maande lank na die VSA te verhuis.
Goed om te weet:
- Disney maak elke jaar spesifiek plek vir Afrikaanssprekende verteenwoordigers.
- Disney vereis dat jy ‘n agtergrondondersoek en polisieklaring voltooi voor finale aanvaarding.
- Die suksesvolle aansoeker sal deur Disney bygestaan word om ‘n visum te bekom.
- Betaling is per uur en begin op $10, afhangend van ondervinding en rol.
Die bekende baobab-boom in die Animal Kingdom-pretpark.
Só begin ‘n mens:
- Voltooi die aansoekvorm op die Disney Careers-webwerf onder Cultural Representative Program: Sub-Sahara Afrika. Hierdie aansoekvorm versoek basiese inligting, asook ‘n CV en motiveringsbrief.
- Die sluitingsdatum vir die program verskil. Aansoeke vir Februarie 2022 is nou oop. Onderhoude sal in Julie en Augustus 2021 behartig word.
- Dit kan tot ‘n maand neem om van Disney terug te hoor nadat die aansoekvorm en alle vereiste dokumente verskaf is.
- Indien Disney jou aansoek aantreklik vind, sal hulle jou nooi vir ‘n onderhoud. Onderhoude vind in Durban, Kaapstad en Johannesburg plaas.
Disney World – ‘n sprokieswêreld in die regte wêreld.
Watter soort poste kan ek voor aansoek doen?
- Drie van die poste is by die hotel. Hierby ingesluit is die Savanna-gidse, restaurant-verwelkomers en voorportaal-personeel.
- Savanna-gidse lig hotelgaste in oor die Afrika-diere wat by die hotel rondloop en wei. Hierdie gidse bied ook kinderaktiwiteite aan wat handel oor natuurbewaring in Afrika. In die aande doen gidse aanbiedinge oor hul lande en leer gaste om tradisionele tromme te speel.
- Restaurant-verwelkomers werk in die hotel se restaurante. Hulle is borrelende mense en verwelkom gaste. Hulle sien ook om na tafels en deel meer oor die eg Afrika-disse wat bedien word.
- Voorportaal-verwelkomers heet gaste by die hotel welkom en hou die jonger gaste besig met aktiwiteite.
- Dan is daar ook ‘n pos by die Animal Kingdom Park. Hierdie persone werk in die park self en fokus op Afrika-diere en -kultuur.
Disney World verwelkom jaarliks verteenwoordigers van regoor die wereld .
Waarom hierdie program?
- Bekom gratis toegang tot Disney World se verskillende parke en geniet personeelafslag op verblyf en in restaurante.
- Werk saam met ‘n diverse verteenwoordigersgroep van regoor die wêreld en verbeter jou menseverhoudings.
- Verdien ‘n salaris deur jou trots en kultuur in die VSA uit te leef.
- Uitstekende ondersteuningsnetwerke deur Disney se beroepsdepartement.
- ‘n Duidelike en eenvoudige aansoek- en ontvangsproses.
Vir meer inligting of om aansoek te doen, besoek die Disney-beroepswebwerf. Soos Walt Disney gesê het: “All our dreams can come true, if we have the courage to pursue them.”