Die demografie van die hedendaagse Suid-Afrikaner is aan die verander. Ons het groot geword, en die wêreld klein. Daarmee saam het die destydse hunkering om te trou en nes te skrop verander na ‘n lus vir reis en vlerksprei. Reis Afrikaans is dus in Januarie 2017 gestig met die doel om Afrikaanse reisigers te bemagtig en te verbind.
Primêr ‘n platform vir die deel van reis-idees, foto’s, en moontlikhede, kan ons jou ook help met Teach English-plasings in ‘n verskeidenheid lande sowel as die ESL-sertifikasie wat daarvoor benodig word (dis maar net groot woorde vir die kursus wat jou toelaat om oorsee Engels te kan gee). Die een ding waarvoor ons liewer is as vir reis, is mense. Alhoewel ons dus inhoud skep in Afrikaans (ons liefling- en moedertaal), verwelkom ons voornemende reisigers van alle tale, kulture, en agtergronde. Welkom by die Republiek van Afrikaanse Reisigers!